Inwyding van die Eldo Dramateater en die Kleinteater
Na harde werk en drome wat oor baie jare kom, is die skool so bevoorreg om nou te kan spog met twee klein teatertjies.
Een ideaal pasgemaak vir Drama. Dit sluit vakdrama, dramastudio en toneel in, wat ‘n kleiner en intiemer ruimte benodig vir die ware drama-ervaring wat seker tekste vereis. Die teater huisves 80 toeskouers.
Die ander, ‘n groter teater wat sitplek bied vir ongeveer 120 mense, is meerdoelig en kan enige genre in die kunste huisves en is ook geskik vir konferensie en vergadering.
Die teaters is gesamentlik, op 21 April 2016, luisterryk ingewy en die sleutels is amptelik in ‘n klein seremonie, aan Dr Anton Prinsloo oorhandig.
Na’n heerlike en pragtige voorgereg, het die gevierde Jannes Erasmus, van Woordfeesfaam, sy uitstekende stuk, SMAARTIES, opgevoer in die Dramateater. Hy het geroer en tog ook geskok deur sy puik vertoning wat oor skisofrenie handel.
Daarna is die hoofmaaltyd , vir die eerste maal in die vierkant, onder dak, bedien. Die Gasvryheidstudieleerlinge het onder die puik leiding van Me Dorothy-Lynn Kempen en Me Lynette Venter, ‘n maaltyd voorgesit wat steeds vra na meer…
Die vierkant was luisterryk ingeklee en omgetower in ‘n ander wêreld en mens was byna spyt toe dit tyd was om die vierkant te verlaat vir ‘n volgende opwinding…
In die KLEINTEATER was dit Jak de Priester se beurt… Jak is ‘n oud-kollega wat die heel eerste teaterinisiatief by Hoërskool Eldoraigne in 2002 begin het. Dit was dus nie minder as reg, dat die ware Jacob deur hom ingewy word nie.Hy is bied altyd puik vermaak. Die gaste het gerol soos hulle lag vir die staaltjies en stories wat Jak opdis. Hy is ‘n puik sanger en maak ons trots – hy is immers ‘n oud-Eldo. Die nostalgie en die lus om te dans kenmerk Jak se gehore en dit was die keer nie anders nie.
Na Jak se vertoning het die gaste na die onthaallokaal beweeg, waar ‘n fees van nagereg, kaas en beskuitjies bedien is. ‘n Aand wat in ons harte sal voortleef, is verby.…en Eldoraigne het sy twee teaters.
Die gemeenskap van ons skool gaan in die jare om te kom, puik professionele produksies hier beleef. Die leerlinge van Hoërskool Eldoraigne gaan puik produksies opvoer en wonderlike dinge leer. Ons kan nie wag nie!
______________________________________________________________________________
Sien ook Eldo Dramateater en Klein Teater oop vir Besigheid