Eldo Dramateater en Klein Teater oop vir Besigheid
Hoërskool Eldoraigne het uiteindelik sy eie twee teaters wat toegespits is daarop om spesifiek produksies vir die gemeenskap van Centurion op die planke te bring.
Die teaters open amptelik op 21 April met ‘n glansgeleentheid waar Jak de Priester as die hoofkunstenaar sal optree. Die Aardklop produksie Óm die beurt’ sal ook die aand op planke te sien wees.
Die Eldo Teaters is die eerste en enigste teaters in Centurion wat spesifiek daarop gemik is om vir kunstenaars, opkomend sowel as professioneel, ‘n platvorm te bied waar hulle hul werk ten toon kan stel aan die gemeenskap van Centurion. Teatergangers van Centurion hoef dus nou nie meer ver te ry na ander teaters of na feeste toe om na hulle gunsteling sterre of produksies op die planke te sien nie – dis nou om die draai!
Die Eldo Teaters bestaan uit twee teaters, naamlik die Eldo Dramateater wat ‘n intieme teater is wat ongeveer 80 mense huisves en die Eldo Kleinteater wat ietwat groter is en nagenoeg 150-200 mense kan huisves. Beide hierdie teaters is ten volle toegerus met die nuutste klank- en belitigtingstoebehore.
Die Eldo Teaters sal drama-, musiek-, kinder-en-komedieproduksies op die planke sit waarna gehore kan kom kyk. Die Teaters sal ook as repitisie lokale gebruik kan word deur kunstenaars wat dit sou benodig.
Die Eldo Teaters is ‘n inisiatief van Sanet Bulwan, Kultuurhoof by die Hoërskool Eldoraigne. Aangestel as die teaters se teaterbestuurder is die veelbekroonde regisseur en vervaardiger, Quintin Wils. Wils sê dat sy beplannig met die teater is om “soveel as moontlik geleentheid te skep vir opkomende (leerlinge en jongmense van ons eie omgewing), sowel as professionele kunstenaars om hulle werke op die planke te bring”. Hy voeg by dat die Eldo Teaters die nuwe ‘huis’ sal word van kunstenaars, nie net in Centurion nie, maar ook die res van die land. Wils is reeds besig om met kunstenaars van reg oor die land te gesels wat hulle produksies by die Eldo Teaters wil laat op voer.
“Add” die teater gerus op Facebook onder “Eldo Teaters”
Kontak Quintin Wils by quintinwils@gmail.com vir verdere inligting aangaande die Eldo Teaters.
Die adres waar die twee knus teaters te vinde is, is Christoperstraat 26, Eldoraigne, op die skoolgronde van die toonaangewende kultuurskool, Hoërskool Eldoraigne.
______________________________________________________________________________
Sien ook Inwyding van die Eldo Dramateater en die Kleinteater