Lillian Gysman, Ons Stille Boek-Heldin
Lillian Gysman is maar sku. Sy skud saggies my hand en wonder seker wat ek nou eintlik daar kom maak.
Haar eie kinders staan soos orrelpypies tussen die ouderdomme van 2 en 20. Sy is lief vir kosmaak en soos enige goeie kok is sy aarselend om haar geheime met my te deel. Haar vel is vlekloos en haar oë blink so effe; Lillian se gesig is sag; en die buitensporige oorbelle sê sommer dadelik vir my dat sy ‘n meisie na my hart is.
Lillian Gysman is die bibiotekaresse in die Crags Primêre Skool leessaal. Lillian het vir ‘n jaar, elke Dinsdag en Donderdag, vrywillig by die biblioteek gewerk en as gevolg van haar toewyding het die Onderwysdepartement uiteindelik ‘n amptelike pos vir haar geskep.
Dis nou al die sewende maand dat sy darem ‘n sakkie sente verdien vir haar arbeid.
Versorg, Ontwikkel, Bemagtig
Twee jaar gelede was daar nie ‘n biblioteek by Crags Primêr nie. Ten spyte van talle probeerslae, was die paar boeke wat die skool besit het, weggepak onder ‘n stoflaag. Jill McIlleron van Kids of Kurland het die projek op die been gebring en die biblioteek in 2008 geopen. Vandag is daar al 15,300 boeke waarvan die 650 leerlinge gebruik kan maak.
Wonderbaarlik is die biblioteek nie net slegs toegerus met naslaanboeke vir skoolprojekte nie, maar daar is ook ‘n menigte kortverhale en storieboeke wat die kinders se aandag sal hou en hulle sal inspireer om hulself in ‘n ander wêreld te verloor deur die leesmedium.
Smiddae kom sit die kinders daar by Lillian om die plastiektafeltjies en sy help en ondersteun hulle met hul huiswerk. Sy gee raad oor toepaslike naslaanboeke vir hul take en party kinders kom sit sommer net daar om te lees. Sommige kom neem 2 boeke vir die week uit; en ek vermoed dat baie kinders net kom vir die tere aandag wat hulle by Lillian kry.
Lillian het die hele biblioteek gerangskik. Afrikaans: alfabeties van regs na links, en Engels: alfabeties van links na regs. Heelbo, verhale vir die ouer kinders en die prente boeke onder waar die tjokkertjies hulle kan bykom. Bowendien het sy ‘n groot boekrak in die kamer gesentreer waarop sy weekliks interessante boeke na die voorgrond bring.
Spoeg en Plak
Sy wys toegewyd vir my hoe sy die stukkende boeke versigtig teen die rugkant vaslym. Sy is vol planne – sy praat van meer tydskrifte wat sy wil versamel vir die kinders se skoolprojekte; van meer boekrakke en ‘n groter versameling boeke sodat die biblioteek van krag tot krag kan groei. As jy miskien ‘n handjie wil by sit deur boeke te skenk, skakel gerus vir Kids of Kurland op 044 534 8551.
Luilekker Lees
Lillian is vreeslik lief vir lees en neem die meer gevorderde boeke by die Bitou Biblioteek uit. Haar gunsteling is ‘n Afrikaanse roman met ‘n aangrypende plot maar so nou en dan sal jy haar wel met ‘n engelse feiteboek betrap.
Die geheim vir haar macaroni-witsous is dat sy die meelblom meng met 2 koppies melk en twee koppies van die styselwater waarin sy die pasta gekook het. Voeg ‘n eetlepel vol botter by die 5 eetlepels meelblom en roer aanhoudend oor ‘n lae hitte. Vir ietsie ekstra, skud jou paprika botteltjie 3 keer oor die kastrol en sit dan ‘n lekker groot hand gerasperde kaas in. Siedaar!
Onderhoud en teks deur Yolandi Badenhorst.
1 Comment
You must be logged in to post a comment.
JaheenJacobs
Lol Go Lillian! Jy’s ‘n inspirasie.