ATM 40: Internasionale Dag van Monumente en Terreine
Venue: Taalmonument
Dates: 18/04/2015 to 18/04/2015
Times: 10:00
40 jaar oud 40 jaar jonk – dít is die tema van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se 40-jarige bestaansvieringe wat op Saterdag 18 April, Internasionale Dag van Monumente en Terreine, in die Paarl afskop. Dié dag word jaarliks wêreldwyd gevier om mense bewus te maak van hul diverse kulturele erfenis, asook die bewaring en beskerming daarvan.
Volgens Isabeau Botha, Bestuurder van die Taalmonument, is dit nodig om mense bewus te maak van die simboliek van dié monument, wat dikwels verkeerd geïnterpreteer word.
“Die Taalmonument simboliseer die oorsprong en nalatenskap van Afrikaans, een van die jongste tale in die wêreld, wat vanjaar amptelik 90 jaar oud is. Oor die afgelope 40 jaar het die monument ‘n gewilde bestemming geword vir kultuur, natuur én plesier, met volgehoue groei in besoekersgetalle, en ‘n rekordgetal van meer as 70 000 besoekers die afgelope jaar,“ sê Botha.
“Veertig jaar later staan die Taalmonument onveranderd, maar nie onbevraagteken nie – die fisieke struktuur bly onveranderd, maar die betekenis en interpretasies daarvan het, én sal, gedurig verander. Voorheen is dit gekritiseer as ‘n simbool van die taal van Apartheid, terwyl dit nou toenemend as ‘n eerlike en trots Suid-Afrikaanse monument (h)erken word. Die Taalmonument gee ironies genoeg reeds sedert sy ontstaan erkenning aan al die diverse oorsprongtale van Afrikaans, uit Afrika, Europa én Asië. Vandag het dit dus ‘n hoogs relevante simbool van versoening en nasiebou geword – met die visie dat oud én jonk Afrikaans sal kan respekteer en waardeer.”
Verskeie gratis aktiwiteite word op 18 April by die Taalmonument aangebied, maar bespreking is noodsaaklik.
- Boekwurms moenie die opening van die Taalmonument se nuwe boekwinkel, Die Boekrak, om 11:00 misloop nie. Dié winkel verkoop goeie tweedehandse boeke, asook 40 uitsoek nuwe titels. Die uitgewer Melt Myburgh sal tydens die openingsgeleentheid gesels oor die heruitgawe van Boererate, die gewilde gids deur Danie Smuts.
- Kom besigtig die eerste fase van ‘n nuwe uitstalling wat vanjaar in die Besoekersentrum open. Die eerste fase fokus op die bou van die Taalmonument.
- Gratis begeleide toere van die monument vind om 10:00, 11:00, 12:00, 13:00 en 14:00 plaas.
- Borg-‘n-boom/plant: Besoekers kan tussen 09:00 en 14:00 help om 40 plante in die Monument se tuin te plant. Dié projek word aangebied in vennootskap met Drakenstein Toerisme. Borg teen R100 ‘n boom of ‘n plant in dié tuin en jou naam en die volksnaam van die plant word daarby aangebring.
Deon Meyer-aanhangers kan die aand om 19:00 ‘n spesiale skrywersete en -gesprek, ten bate van die ATM, by Grande Roche Hotel bywoon. Kaartjies kos R495 en moet vooraf bespreek word by tel. 021 863 5100.
Verskeie ander herdenkingsgeleenthede en projekte word beplan, waaronder ‘n groot Opwip-boekwinkel op 14 Augustus en ‘n Opedag op 10 Oktober. Verder kan almal wat vanjaar 40 jaar oud is, die Taalmuseum en -monument gratis besoek. Mense kan ook deelneem aan die “Ek is monumenTAAL!”-skarefinansieringsveldtog deur tussen R40 en R5 000 aan die Taalmonument te skenk ten bate van opvoedkundige en navorsingsprojekte:
- Alle skenkers ontvang ‘n sertifikaat.
- Skenk R100 en jou naam word saam met die volksnaam van ‘n boom of plant in die monumenttuin aangebring.
- Skenk R160 en ontvang ‘n boek oor die Taalmonument deur Jan van Wijk.
- Skenk R5 000 en jou naam word op ‘n tuinbankie/tafel aangebring of jy bekom ‘n gedenkmuurmis in die nuwe Gedenktuin.
Navrae en besprekings: Amira Clayton by tel. 021 863 4809/0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.
Pricing & Booking Information
Gratis toegang.
Venue Details & Map
Taalmonument
Physical Address: Gabbema DoordriftstraatPaarlberg
Paar
Telephone: +27(0)21 863 4809 Email: kommunikasie@taalmuseum.co.za Website: http://www.taalmuseum.co.za/ Directions: Neem die nommer 55 afrit van die N1 af na Hoofweg – Paarl. Draai links in Hoofweg. Bly op Hoofweg (Paarl) vir ongeveer ongeveer 500m en draai links in Flambeaustr. (die eerste straat aan u linkerkant) op. Volg die bruin aanwysingsbordjies tot by Gabbema Doordriftstraat wat lei na die Taalmonument bo-op Paarlberg. Latitude: -33.770247 Longitude: 18.950316