Pumas hou vas vir die wen
Justin van Staden het van die intrapslag af sy stempel met sy skopskoen afgedruk in die Kwalifiserende wedstryd tussen die Steval Pumas en Boland Kavaliers op Mbombela Stadion. Twee langafstand strafskoppe het die vuur in die Pumas aangeblaas. Die tuisspan-voorspelers het met mening ingeklim en die Bolanders moes maar skarrel met die verdediging.
Click here for the crowd photos…
Nico Scheepers, heelagter van die Boland het munt geslaan in die 23e minuut vanaf ‘n losbal en sowat 30 meter hard gewerk vir sy drie, wat ook self verdoel het. Hy kon in die 33e minuut weer aanlê pale toe en bewys dat langskoppe hom nie afsit nie.
Alhoewel die Steval Pumas meeste van die speelwerk gedoen het in die helfte, kon hulle net nie deur die Bolanders se verdediging breek nie. Van Staden het met ‘n strafskop in die 41ste minuut gesorg vir die rustydtelling van 10-9 in die Bolanders se guns.
Die tweede helfte het weer begin met ‘n skopstryd, met Scheepers wat sy eerste driepunter van die aand mis geskop het. Van Staden het in die 51ste minuut die Pumas weer laat voorloop. Maar dit was ‘n helfte van verspeelde kanse. Die Pumas het hanteringsfout op hanteringsfout gemaak enkele meter van die doellyn af maar goed daarin geslaag om die Bolanders onder druk te hou. Van Staden het selfs ‘n skepskop mooi op koers gehad in die 72e minuut, maar hy was net te kort. Scheepers het ook met net ses minute oor op die stadionhorlosie, weer nie geslaag met ‘n lang strafskop nie. Maar dit was beslis die Pumas se beste vertoning die seisoen.
Na die 80 minute se klipharde hardlooprugby, kom die Steval Pumas weg met ‘n 12-10 wen.
Die volgende wedstryd van die Steval Pumas is op 7 Mei in Ermelo waar hulle teen die Namibiese Welwitchias gaan speel. Dié wedstryd sal die hoofdis wees van die dag se rugby by Hoërskool Ermelo wat teen Piet Retief gaan kragte meet.