www.rooirose.co.za |
Ons bied jou Gehalte Artikels…ShowMe™ en Rooi Rose, die tydskrif vir vandag se Afrikaanse vrou, bring vir jou van díe tydskrif se top-gehalte artikels reg hier, op ons webtuiste.
Rooi Rose. Stylvol, Sinvol, Propvol. Sien hieronder vir meer inligting or die nutste uitgawes en vind uit hoe om in te teken. |
G’n perdekoop nie
Om te trou kan ewe duur as dromerig wees. Kan jy dit bekostig?
Dis nie asof jy Katie Holmes, die Beckhams of Minki Visser se troues wil troef in glans en detail nie. Maar jy het nie geweet jou idee van “eenvoudig” of “klassiek” kan ook die prys van ‘n stoetperd kos nie.
Sedert jy besef het die woord “begroting” staan onlosmaaklik langs die woord “trou”, word vrye tydjies nie net meer bestee aan dagdrome en uitknipsels versamel nie, maar ook aan sommetjies maak. Wie vir wat betaal, en wat ‘n realistiese bedrag is, kan op ‘n eindelose stryery en ongelukkigheid uitloop. As dit nie reg benader word nie, kan jou troudag meer spanning as plesier veroorsaak.
Kenners gee hier ‘n paar riglyne vir wanneer jy begin wonder of jy dit wel kan bekostig om te trou of nie. Hulle deel ook ‘n paar randrekkers.
Wees realisties
Otto de Jager van Otto de Jager Events in Johannsburg, sê ‘n gemiddelde troue kan enigiets van R900 tot R1600 per persoon kos. “Dit sluit die plek, spyseniering, drank, blomme, dekor, verhuringsitems, video, fotograaf, kerse en byna alles anders behalwe die bruidsuitrusting en wittebrood in,” se hy.
Rozanne Morkel-Mong van die Aleitgroep in Kaapstad, is minder konserwatief en gee ‘n bedrag van tussen R2 500 en R5 000 per persoon, afhangend van of jy op die minimum koste werk en of jy meer detail en oordaad verkies.
Sy sê die ekonomiese situasie laat paartjies ook herbesin. Hulle sny heel eerste op hul gastelyste. “Ons sien dat troues soms tot die helfte minder gaste het.”
Maar hoe gemaak as jou begroting klein is en jy steeds jou droomtroue wil he? Rozanne stel voor dat jy bepaal wat die belangrikste element vir jou troue is. “Maar ek sou nie op dekor of kos sny nie.”
Trouontwerper Marcel Augustyn van Design by Marcel, se raad is om eerder minder detail maar meer gehalte te hê as jou begroting knap is. ‘n Goeie fotograaf wat jou dag verewig en die dekor is vir hom ononderhandelbaar. “Besluit waarop jy wil fokus, soos minder, maar duurder blomme. Vul dit dan met kerse aan.”
Hy sê om ‘n mood board saam te stel is ‘n goeie begin sodat paartjies ‘n idee kan kry van die styl en gevoel wat hulle wil skep. Dan weet jy ook waarop jy kompromieë sal tref en waarop nie.
Wie betaal vir wat?
Tradisioneel sou die bruid se ouers vir die onthaalkoste, skryfbehoeftes en blomme betaal en die bruidegom vir die drank, troulisensie en wittebrood. Maar troukoördineerders sê dinge werk nie noodwendig meer so nie.
“Die formaliteit van betaling is iets wat verlore gegaan het,” sê Otto. Rozanne stem saam. “Deesdae betaal al meer bruidspare self en sal albei ouerpare ‘n bydrae maak. By jong paartjies wat nog nie op hul eie bene staan nie, betaal albei se ouers gewoonlik en nie net die bruidsouers nie.”
Marcel stel voor dat paartjies ‘n afsonderlike bankrekening vir die trou-uitgawes oopmaak. “Die bruidspaar se ouers en die paartjie betaal dan elk in die rekening wat hulle kan bekostig. AI die koste, van die rok en die onthaal tot die wittebrood, kan dan hieruit betaal word. Dan kry jy ‘n realistiese idee van hoeveel jy het om te bestee.”
Bly by jou begroting
Dit‘is ongelukkig so dat baie paartjies skuld moet maak om die troue te kan bekostig wat hulle wil hê. Otto sien dit nie as ‘n groot sonde nie, mits jy dit binne perke doen. “‘n Troue gaan vir jou ‘n leeftyd se herinneringe inhou. As jou finansiële vooruitsigte goed lyk, sien ek geen rede om nie redelike skuld aan te gaan nie.”
Marcel stel voor dat die bruidspaar lank voor die tyd op ‘n datum besluit, deposito’s betaal vir byvoorbeeld die fotograaf, bloemiste of koördineerder en in die wagtydperk ernstig spaar vir die res van die uitgawes. “As jy sien die koste is besig om te hoog te raak, oorweeg dit om jou gastelys kleiner te maak. Jy kan selfs ‘n A en B gastelys he met verskillende RSVP-datums sodat as iemand van lys A nie kan kom nie, jy iemand op lys B in hul plek kan nooi.” Die geheim is hier om lys A se kaartjies reeds vroeg uit te stuur.
Maar, sê Otto, ‘n droom en ‘n herinnering is nie noodwendig iets wat verklein of afgegradeer moet word nie. “Dink slim, dink uit die boks uit en kry iemand wat na jul behoeftes kan omsien en met ‘n vars oog jul droom kan bewerkstellig.”
Spaar so
Die plek: Rozanne sê daar is ‘n rits maniere om jou uitgawes te beperk. As jy wil bespaar op koste vir die trouplek, kan jy ‘n goeie restaurant vir ‘n aand uitboek. “Jy spaar ook so deur nie die tafels, stoele en eetgerei te huur nie.”
Drank: Deur ‘n kontrantkroeg te hê eerder as om al die drank self te verskaf, kan duisende spaar!
Seisoen: Trou in die winter. “Hulle noem dit die ‘geheime seisoen’. Die plekke is dan nie so besig nie en jy sal ‘n beter prys kry,” sê Marcel. Hy waarsku dat blomme duurder is in die winter, maar jy kan dit altyd vervang deur bessies, kerse of ander kreatiewe versierings. As jy nie op ‘n Saterdag wil trou nie, kan jy ook spaar. “Vrydae en Sondae is aansienlik goedkoper.”
As die son sak: Marcel se skemeronthale word al gewilder. “Kry kelners wat tussen die gaste beweeg met kos en drankies.” Hy sê die vingerhappies by skemeronthale is goedkoper as ‘n driegang-maaltyd en steeds baie romanties.
Goeie môre: Spaar op drank, kos en musiek as jy in die oggend trou. “‘n Strykkwartet vir ‘n paar ure is goedkoper as ‘n orkes
Soetgoed: ‘n Neiging wat al meer aftrek kry, is om jou koek ook as nagereg te bedien. Met ‘n koek wat, volgens Rozanne, jou enigiets tussen R2 500 en R5 500 uit die sak kan jaag, is dit ‘n slim besparing omdat jy dan nie vir die nagereg betaal nie.
Drukkersduiwel: Laat druk jou uitnodigings self. “Vir ‘n minimale bedrag kan jy ‘n ontwerper vra om die kaartjie te ontwerp, jou papier kies en na die drukkers neem,” sê Marcel. Nog goedkoper is om jou spyskaarte op swartborde met mooi houtrame te skryf (à la restaurant-styl) of gebruik ‘n spieël (wat jy weer later weer kan benut) om jou tafelaanwysings op te skryf, eerder as om vir almal individuele kaartjies te maak.
Dankie: Rozanne sê bitter min paartjies gee nog vir die gaste geskenke. “Ek sal heel eerste hier sny.”
Hier kom die bruid: Motorhuur kan jou tussen R1 500 en R3 500 kos vir drie uur se gebruik, sê Rozanne. “Moenie geld uitgee op die kar as niemand dit gaan sien nie.”
Bloed is dik: Gebruik jou familie! As iemand goed is met iets, soos kan bak of ‘n grafiese ontwerper is, kan hulle jou troukoek aanmekaarslaan of jou kaartjies ontwerp. As van jou familie of goeie vriende ‘n mooi tuin of huis het, hou jou onthaal daar, stel Rozanne voor.
‘n Middelman: ‘n Troukoördineerder kan dikwels beter pryse beding omdat hulle gereeld met verskaffers werk. Hulle verlig ook jul spanning en julle spaar petrol- en telefoonkoste. Maar die gerief kan jou enigiets tussen 10% en 30% van die begroting kos, sê Marcel.
Dink buite die boks
As jy nie ‘n formele onthaal wil hê nie, wat van ‘n romantiese troue op Tafelberg? Met ‘n huweliksbevestiger en ses gaste, sê Dion Goldie van Cape Wed, hoef dit jou niks meer as R3 000 te kos nie.
Vergeet van die groot troue in Suid-Afrika. Vlieg ses gaste vir ‘n naweek Parys toe. “Trou in die Notre Dame en gaan daarna na die Maison Blanc of die Laduree-teekamer vir petit fours, makrolletjies en Franse warm sjokolade.”
Rozanne stel ‘n intieme troue met slegs jou naaste vriende en familie op ‘n tropiese eiland voor. “Elkeen betaal vir sy eie vliegkaartjies en verblyf.”
Pleks daarvan dat jou gaste geskenke koop, laat hulle geld bydra tot jul “wittebroodfonds” sê Marcel. Jy kan die rekeningnommer in jou troukaartjie laat druk.
Trou gou
Dion Goldie van Cape Wed se dienste bied troues op kort kennisgewing aan – waar en hoe jy wil. Dit kos sowat R600 vir ‘n kort, wettige huweliksbevestiging. Binnelandse sake is natuurlik nog’n opsie vir paartjies wat verkies om nie deur ‘n predikant getrou te word nie.
Hierdie verkorte artikel is uitgehaal uit die September 2009 uitgawe van Rooi Rose. Teks deur Liezel Joubert.
Kontak hulle
- Design by Marcel www.designbymarcel.co.za
- Die Aleit-groep: .www.aleit.co.za
- Otto de Jager Events: www.odjevents.com/
www.rooirose.co.za |
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |