Dorp van Drome Karnaval
Dorp van Drome 2013 het op Jeugdag, 16 Junie begin. Op 17 Junie het ons Karnaval gehou!
Studente beleef JOOL as ’n hoogtepunt. Dit bring die hele gemeenskap bymekaar.
As oud-Matie was ek baie betrokke in die organisasie van die Jool. Die doel van Jool was om fondse in te samel om die gemeenskap op te hef.
Dit pas goed in met Dorp van Drome se gemeenskapsbetrokkenheid. Watter beter manier om dit te bereik as om saam te speel en so verhoudings te bou!
As jy aan die einde van jou lewe terugkyk, is dit die kwaliteit van jou verhoudings wat jou lewe betekenis gee.
Die Straat Karnaval het die geleentheid vir almal gegee om op gelyke voet deel te neem.
Oud, jonk, ryk, oud, mooi, lelik kon speel en mekaar so beter leer ken!
Soos my ouma gesê het: “Jy hou nie van die man nie, want jy ken die man nie; en jy ken die man nie want jy hou nie van die man nie!”
Die Burgermeester het die Karnaval geopen. Hy het die klem gelê op die belangrikheid van die bou van verhoudings. Ek was aangenaam verras om die man agter die mediabeeld te leer ken.
Dit was heerlik om die mense in ons dorp beter te leer ken en om te sien hoeveel goodwill daar tog in ons dorp is.
Brenton van Steers het sonder om te aarsel vir ons 50 hamburgers gratis verskaf om vir die blaasorkes en Klopse van Pelsrus te gee. Spekboomlapa het vier middagetes as pryse uitgeloof vir deelnemers.
Anette, wat saam met my die Karnaval gereël het, het haar rugoperasie uitgestel terwyl sy vrek van die pyn om self daar te wees en meer as haar deel te doen. Sowaar iemand om op staat te maak!
Die oom van Pelsrus wat sonder huiwering sy duiwe gebring het sonder om iets terug te verwag. Die duiwe is vrygelaat toe die Burgermeester die verrigtinge open.
Reggie wat al sy sokkerspelers self vervoer het en saam met sy vrou aan die optog deelgeneem om na hulle veiligheid om te sien!
Die Gumboots Dansers van Alfred was ’n fees om te aanskou!
Die Stitch Witches het opgedaag en was ‘n aangename verrassing dat daar mense is wat vanself moeite doen om deel te neem.
Die Junior Face of Afrika – Susan Schoeman, ’n Matrikulant van Nico Malan Skool, het ondanks eksamentyd sonder aarseling ingestem om die Karnaval te lei in een van die spog veteraan sportmotors wat Coen van Beek gereël het.
Mark het sy Beautiful gerestoureerde Volkswagen Kombi/bus gebring om die Surfers mee te vervoer, so gepas in die Surf-geskiedenis van die dorp!!
My ou Stellenbosch vriend Gideon, het spesiaal van George af gery net vir die dag en saam met my die strate ingevaar. Hy was die drag queen met ‘n blonde pruik en het nie omgegee om sy naam met ’n plank te slaan vir die goeie saak nie. Ek het dit so baie waardeer en weer besef hoe belangrik en kosbaar goeie vriende is! Ons het soos jong studente in die strate gespeel.
Ben van die fotografie winkel skuins oorkant Woolworths het vir ons pamflette en plakkate gratis gedruk “want dis mos vir ons Dorp”. Sulke mense wil ons mos in ons gemeenskap hê. Dankie Ben!
Die Kooperasie in Humansdorp het met net een oproep van Ernst vir ons 10 oorpakke geskenk vir die gumbootdansers. Ons kan dit nou weer en weer gebruik. Baie dankie Herman en jou span! Dit gaan nie ongesiens verby nie.
Die Verkeersdepartement was sterre! Onder die besonderse leiding van Solly Nelson het hulle geskitter! Sonder hulle sou ons dit nooit kon doen nie. Hulle was ongelooflik vriendelik, behulpsaam en aanpasbaar. Ons het sulke mooi en positiewe verhoudinge gebou. Ek kan nie genoeg vir hulle dankie sê nie.
Carleen Arendse van die Munisipaliteit het met soveel effektiwiteit ons ondersteun en die proses van goedkeuring so vinnig en vlot laat verloop. Sy het my na-ure gebel om seker te maak ek het alles wat ek nodig het.
Die Lewensredders het nadat ek hulle versoek het, dadelik teen die vlagpale opgeklim om die toue in te ryg.
Die NSRI het deelgeneem en deur hul teenwoordigheid die publiek bewus gemaak van hul belangrike rol. Dankie Rieghard vir jou positiewe houding, lekker om met sulke mense saam te werk en te weet daar is mense soos julle wat na ons belange om sien.
My Komitee Ernst, Anette, Terry en Johan was ’n effektiewe span waarsonder ek dit nooit sou kon doen nie! Ek sal die Drakensberge kaalvoet met hulle aandurf.
Na afloop van die Karnaval was daar nie ’n papiertjie wat rondgelê het nie, nie ’n ding stukkend of uit sy plek nie. Dit was vir my belangrik dat niemand na die tyd rede moes hê om te kla of dat Dorp van Drome se naam skade aandoen met iets wat verkeerd geloop het nie
Die Straat Karnaval het op ‘n hoë noot begin en op ’n hoë noot geëindig. Die Flashmob – wat presies om 12uur plaasgevind het by die eindpunt by Dolfynstrand – het landswyd presies om 12uur weergalm met “I believe”. Dis die gepaste musiek om te sê: “I believe” ook in J-Bay en sy mense! Saam kan ons baie vermag en die energie in die dorp positief draai vir almal.
Dankie aan elkeen wat opgedaag het en die strate belyn het om na die Straat Karnaval te kyk en toe te juig! Sonder die mense van ons Dorp wat kom kyk het, is dit soos ’n konsert sonder ’n gehoor. Dankie Jeffreysbaai dat julle so ondersteunend is!! Dankie ook aan AD en Liezel wat die dag op kamera vasgelê het op so ‘n professionele manier! En nog steeds kon saam speel die hele pad lank!
Ons beplan reeds aan ‘n groter karnaval vir ons afsluiting die 16de Desember 2013. Dit is dan ‘n geleentheid om J-Bay te laat skitter voor al die besoekers oor die hele land! Dié optog was maar net die oefenlopie. Van volgende jaar af gaan ons dit ’n jaarlikse instelling maak op 16 Desember – en watter beter dag as Versoeningsdag!
Ons het reeds soveel goeie verhoudinge gebou deur almal wat deel was van die eerste Karnaval.
Jeffreysbaai is die branderry mekka, maar glo my, ons is soveel meer en gaan nog ‘n leidende rol speel in ons land om verhoudings te bou en mense eienaarskap te laat neem van hul omgewing en gemeenskap.
J-Bay was nog altyd ’n cool plek om in te bly, maar gaan nou ook ’n pragtige dorp word op wie almal kan trots wees. ’n Dorp met ’n besonderse positiewe energie en goeie verhoudings.
Dis vir my ‘n voorreg om deel te wees van hierdie proses.
I’m a Dreamer but I’m not the only one
Liefde,
Soria