Tru – Cape seëvier
‘n Groot aantal drawers het verlede Saterdag 10 September die uitstekende hadloopweer (aanvanklik) benut om hul fiksheid in True Cape Kogelberg-uitdaging oor van die strafste maar ook mooiste roetes in die Wes Kaap te toets, en soos gewoonlik hulself gate uit geniet.
Nuwe record is in die halfmarathon deur sowel die mans- as die vrouewenner opgestel danksy die koel, klam weer wat vroegoggend geheers het.
Phumlani Sigidi van die Nedbank – klub het in 1:14:18 klaargemaak, meer as vier minute voor sy naaste mededinger, Dicardo Jacobs. Thembelani Zola, ‘n gereelde deelnemer aan Hangklip-wedlope, was derde met ‘n tyd van 1:22:04.
Michelle Dreyer van Paarl was die eerste vrou om klaar te maak in ‘n tyd van 1:32:40.
Die tweede wedloop van die dag, die 10km het om 10:30 begin en die son wat toe kop uitgesteek het, het sy tol begin eis en die tye merkbaar verswakker. Phumlani en Michelle het weer eens gewen.
Deelnemers was vol komplimente vir die puik organisasie vanjaar onder leiding van Sandy Keiserwaard. Die roetebeampte was Jannie Nel, wat groot moeite gedoen het om te verseker dat die roete deeglik gemerk en korrek afgemeet was. Vriendelikheid by die waterpunte is ook ‘n kenmerk van Hangklip-byeenkomste en die spanne wat daarvoor gesorg het was onder leiding van Marianne Mulder (3km), Jan Mulder (6km), Jan Theunissen (9km), Rene Ryke (12km), Wolfgang Steinbach (15km), Japie Hamman en Christo Coetzee (18km)
Verkeersveiligheid was indrukwekkend en so ook die diens van die roetebeamptes. Coca-Cola het ook sy deel gedoen met klank en ‘n glasie koeldrank te versterk.
Sowat 500 inskrywings is ontvang – 220 in die halfmarathon, 200 in die 10km wedloop en minstens 80 in die pretloop.
Dit het ongetwyfeld ‘n bydrae tot die sukses van Pringlebaai Windgatfees gelewer en talle deelnemers is gesien waar hulle stalletjies besoek het en by plaaslike restaurant iets geëet het.
Source: Hermanus Times