Ma in rou ná seun sterf
“My hart is stukkend oor my kind.”
So het Thea Louw van Voëlklip gister gesê nadat sy haar seun op die ouderdom van 37 aan die dood moes afstaan.
Matthys Myndert Louw is Sondag in ’n ongeluk op pad terug van die Noord-Kaap dood toe die bakkie waarin hy en sy meisie Rozanne Karg, asook ’n span plaaswerkers agterin, se band gebars en die bakkie gerol het.
Myndert, wat ’n entrepreneur was, het in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Twee plaaswerkers is ook in die ongeluk dood.
Myndert het vir Rozanne se pa gehelp om seisoenwerkers in die Noord-Kaap te gaan haal om hier op sy plaas buite Stanford te help tydens die komende seisoen. Op pad om die werkers te gaan haal, het hy en Rozanne eers by Myndert se 4-jarige dogtertjie Marié, wat op Williston bly, gaan kuier. Rozanne het die mooiste foto’s geneem van Myndert se laaste kuier saam met sy dogter.
Thea sê sy is dankbaar vir al die positiewe terugvoer wat sy oor Myndert ontvang, en teenoor almal wat hulle in die moeilike tyd bystaan. “Ek weet die Here dra ons in dié tyd.”
Behalwe vir sy ma, Thea, laat Myndert twee broers, Kobus en Nico, en ’n suster, Irma, agter.
Sy begrafnisdiens is Saterdag 11 Februarie uit die NG-gemeente Hermanus.
JANINE VAN DER RIET
Source: Hermanus Times