Jong man dood in gru-aanval
Die ontspanne vakansie-atmosfeer in Voëlklip is Saterdag onderbreek toe ’n 21-jarige inwoner tydens ’n twis dood-geskiet is.
George Clarkson van Kwaaiwater is in die gesig geskiet en noodlottig gewond nadat Hendrik Kriel (51) na bewering gewapen by die huis in 11de straat opgedaag het.
Luidens ’n polisieverklaring was Kriel onder meer gewapen met ’n pistool, haelgeweer, bofbalkolf en ’n swaard.
“Die oorledene en sy vriendin, wat voorheen glo ’n verhouding met Kriel gehad het, het saam met twee vriende gekuier toe die verdagte hulle verrras het. Hy het die sak met wapens neergesit en gesê hulle gaan nou partytjie hou,” lui die verklaring.
Kriel, wat kort ná die voorval in hegtenis geneem is, het Dinsdag in die Hermanus-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Luidens die polisieverklaring het Kriel in ’n stadium aggressief geraak en die een meisie met die kolf in die gesig geslaan.
Harold Engelbrecht, staatsaanklaer, het in die hof aangevoer Kriel het glo gesê: “Vandag suip ons, en dan k@k julle.”
Engelbrecht het betoog Kriel het glo vir Kobus Pretorius, een van die vriende wat daar gekuier het, gevra om ’n botteloopmaker in die kombuis te gaan haal.
Terwyl Pretorius in die kombuis was, het hy ’n skoot gehoor. ’n Tweede skoot is ook afgevuur toe Clarkson glo probeer het om Kriel te kalmeer. Dié koeël het Clarkson in die gesig getref.
“Pretorius het probeer om Kriel te keer en is met die swaard in die maag gesteek,” het Engelbrecht gesê.
Volgens hom kon Pretorius, ondanks die feit dat hy gewond was, daarin slaag om Kriel met die kolf van die haelgeweer te slaan.
Die twee meisies wat daar was, het van die geleentheid gebruik gemaak om te vlug.
Volgens ’n bron het Kriel ook ’n sak vol menslike ontlasting in sy toksak gehad. Hy het na bewering gesê mense het hom vergiftig en dít is die bewyse.
Kriel se prokureur, Adrian Louw, het versoek dat hy vir psigiatriese waarneming verwys word. “Kriel se tweelingbroer is van mening dat hy skisofreniese afwykings toon en dat hy opgeneem moet word. Hy het gedink dit is die einde van die wêreld,” het Louw gesê. Landdros Preggy Govender het nie die versoek toegestaan nie. Louw het hierna gesê dat Kriel moontlik skedelbreuk opgedoen het en vir behandeling in die hospitaal opgeneem moet word.
Govender het ook nie dié versoek toegestaan nie en die saak is tot 13 Desember uitgestel.
Bron: Hermanus Times