Hoërskool Hermanus ryg A’s in
Met ’n topstudent wat ’n gemiddelde van 92,8% behaal het, en 21 ander leerlinge wat ook A-gemiddeldes verwerf het, is Hoërskool Hermanus se skoolhoof met reg trots op 2011 se matrieks.
Uit die totaal van 144 matrikulante het 122 universiteitstoelating gekry.
“Baie geluk aan die leerders met dié uitstekende uitslae”, het Werner Ladewig gesê. “Baie geluk ook aan die ouers met hul kinders se mooi prestasies”. Hy het ook spesiaal melding gemaak van die toegewydheid en goeie onderrig deur die skool se personeel.
“Hoërskool Hermanus is baie trots. Die verg toewyding, harde werk en deursettingsvermoë om sulke resultate te behaal. Ons daag vanjaar se matriekklas uit om daarop te verbeter.
“Die graadgemiddelde was 67%, wat 4% hoër is as verlede jaar, en die vakke se gemiddeldes is baie hoër as die gemiddelde persentasie in die Wes-Kaap,” het Ladewig bygevoeg.
Die skool het egter nie ’n 100%-slaagsyfer behaal nie twee matrikulante het gedruip.
Michael-John Heyns was die top- akademiese presteerder met ’n gemiddelde van 92,8%. Sy ouers Saartjie en John is baie trots op hul skrander seun. “Ja, hy het baie goed gedoen!” het Saartjie gesê. “Die skool kan trots wees op die kinders. Hoe goed hulle gedoen het, is ’n weerspieëling van die onderwysers se toewyding.” Michael-John gaan BSc Fisika studeer by die Universiteit van Kaapstad.
Van die ander toppresteerders is Danica Kreusch 90,5%, William Whitelaw 88,83%, Bernice Shaw 88%, Madeli du Toit 85,66% en Mishah Boshoff 85%.
Source: Hermanus Times