Verblyf in Suid-Kaap skaars soos hoendertande
Dit is waarskynlik neusie verby vir laatslapers wat nog akkommodasie aan die Suid-Kaapse kus soek. Vakansieplekke is reeds byna oorlopens toe vol en hier en daar is nog plek beskikbaar in die Klein-Karoo.
Verteenwoordigers van toeriste-organisasies en munisipale leiers sê akkommodasie van nou tot 2 Januarie is baie skaars.
Marcia Holm, uitvoerende hoof van Mosselbaai-toerisme, sê besoekergetalle het van 15 Desember begin verhoog.
“Hier en daar is nog verblyf beskikbaar, maar ons verwag dat dit teen Vrydag opgeraap sal wees.”
Na verwagting sal die meeste mense eers wag vir die aanbreek van die nuwe jaar en dan huiswaarts keer.
Volgens Holm is kampplekke reeds vol. Selfsorgeenhede is ook baie gewild.
Onder die vakansiegangers is internasionale besoekers. Die laaste tyd was daar veral Nederlandse besoekers. Die getal Duitse besoekers is steeds die meeste.
Sy sê Suid-Afrikaners gaan hoofsaaklik strand toe. “Hulle wil by die see wees.”
Internasionale besoekers gaan veral na museums en op bootritte.
Donderdag arriveer ’n groot passasierskip, die Nautica, in die Mosselbaai-hawe.
Volgens Holm het vakansiegangers ’n groot impak op die plaaslike ekonomie. Hulle bestee nie net geld op verblyf nie, maar ook aan kos en geskenke.
Sy raai mense aan om nie net op te daag as hulle nie verblyf het nie.
Greg Vogt van Knysna-toerisme, sê vanjaar het die feestyd daar vroeër begin.
Besoekergetalle het van 16 en 17 Desember af toegeneem.
Van nou tot Kersfees is hier en daar nog plek beskikbaar, maar tussen Kersfees en Nuwejaarsdag is dit vol.
Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa, sê besprekings lyk baie goed.
Stilbaai is steeds die gewildste vakansiebestemming in dié gebied. Een van die redes daarvoor is die drie blouvlagstrande.
Stilbaai se inwonertal groei aansienlik in die vakansie. Gedurende die jaar is daar minder as 5 000 permanente inwoners en in die vakansietyd styg die inwonertal tot tussen 40 000 en 50 000.
In die Hessequa- munisipale gebied is ses blouvlagstrande. Dit is die munisipale gebied met die meeste blouvlagstrande in die land.
Die gewildste verblyf is kampeerplekke en huise wat uitverhuur word.
Billy Engelbrecht, voorsitter van Oudtshoorn-toerisme, sê gastehuise is oorwegend vol. “Akkommodasie is al klaar skaars.”
Die kusgedeeltes anderkant die Outenikwaberge is steeds baie gewild.
Sy ervaring is dat mense Oudtshoorn as tuisbasis gebruik en dan ’n paar keer oor die berg see toe ry. Dit kos hulle goedkoper as om langs die see te gaan bly.
Bron: Netwerk 24