Skaap by polisiekantoor geslag
GEORGE NUUS – Die afslag van ‘n skaap agter in die George-polisiestasie se terrein het hier opslae gemaak.
‘n Betroubare bron beweer dat die George Polisie stasiekommissaris, brig. Phindwela Mawakala, verlede week ‘n skaap teen ‘n omheining by die polisie se enkelkwartiere laat ophang en afgeslag het. Van meer as een bron is verneem dat Mawakala polisielede opdrag gegee het om die skaap af te slag.
“Hulle moes die afval net daar skoonkrap, die hart en lewer gaarmaak, waarna die voorbereide hart en lewer na haar kantoor geneem is as ete,” word beweer.
Die George Herald beskerm die identiteit van sy bronne, waarvan een ‘n foto van die skaap geneem het.
Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, het Dinsdag gesê die voorval is aan die provinsiale kommissaris, genl. Arno Lamoer, se kantoor gerapporteer.
“Die aangeleentheid word ondersoek, maar op hierdie stadium wil ons nie bekendmaak watter eenheid dit ondersoek nie,” het Pojie gesê. Pojie wou geen verdere kommentaar oor die voorval lewer nie.
‘n Ingeligte bron sê Mawakala erken dat ‘n skaap agter die polisiekantoor geslag is. Sy ontken egter ten sterkste dat sy polisielede opdrag gegee het om die skaap te slag. Volgens die bron is Mawakala se verweer dat ‘n skoonmaker wat van diens af was die skaap geslag het. Beweringe is ook geopper dat die skaap aan Mawakala geskenk is en met ‘n polisievoertuig na die George Polisiekantoor aangery is.
‘n Ontstoke getuie van die slagtery beweer dit is as ‘n verwelkomingsritueel geslag, of alternatiewelik “‘n ete ter viering van bri-gadier se redelik onlangse verjaardag”.
Bevestiging kon ook nie verkry word of Mawakala oor ‘n Artikel 6- en 8-permit ingevolge die Veediefstalwet beskik om die skaap in haar besit te hê nie. Na wat verneem word, moet dié permitte vir ses maande bewaar word.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
Source: George Herald