Inwoners maak harte oop vir Rooikruis
George News – George-inwoners het soos die afgelope paar jaar, hulle harte en hande oopgemaak om skenkings te maak vir die kinders en ouers by die onkologie-afdeling van die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad.
Die insameling word jaarliks deur Leonie Oosthuizen gedoen wie se dogtertjie, Annika (8) drie jaar gelede met leukemia gediagnoseer is. Annika moes behandeling by die Rooikruis-kinderhospitaal ontvang en haar ma het daar besef dat daar ‘n nood onder die kinderpasiëntjies en hul ouers is vir warm drinkgoed, iets lekker om te eet of speelgoed om hulle op te beur in die uiters traumatiese tye wat hulle noodgedwonge daar moet deurbring.
Leonie het van toe af elke jaar met ‘n besending artikels deurgery om by die hospitaal te gaan aflewer.
Die Ooshuizen-gesin is dankbaar vir die wonderlike ondersteuning wat hulle vanjaar weer van die plaaslike inwoners ontvang het. Elandré Moore van South Cape Auto het hulle met ‘n Hyundai H1-bussie geborg om alles vervoer te kry. Mnr. Roux en die George Voorbereidingskool se leerlinge het ook fluks gehelp.
Melissa van die Melissa Page-dansskool en die dansers en ouers daar het ruimhartig geskenk, so ook Lynette by Coetzee Apteek, Douka van Anstro Catering, Fifi en ander personeel van SARS, suster Martie en personeel van Bayview Life Hospitaal, Tannie Iza, Carin en kinders van Byekorf Speelskool, DK Couriers, Jareen Schoeman van Outeniqua Sure Travel en Riaan Heunis van Cosy Homes Sedgefield. Mariëtte by Pick ‘n Pay het gereël dat ‘n waentjie by die winkeldeur geplaas kon word. Die Oosthuizens is uiters dankbaar teenoor elke persoon wat iets daarin geplaas het.
“Dankie ook vir elke pakkie wat net afgegee is of wat ek net opgetel het. Julle elkeen is so spesiaal en ons dank julle opreg,” het Leonie gesê
Source: George Herald
Latest Headlines in the George Herald today: