2013 George Kaasfees byna hier
Laerskool Outeniqua bied hierdie jaar die 11de Vodacom George Kaasfees vanaf Donderdag 25 Julie tot Sondag 28 Julie aan.
Hierdie gunsteling familiefees skop af met Steve Hofmeyer as gaskunstenaar by die baie gewilde Vodacom Shop George Gala-aand op 25 Julie.
Kaartjies vir die geleentheid is beskikbaar by Laerskool Outeniqua teen R150 per persoon.
Vrydagaand 26 Julie en Saterdagaand 27 Julie vermaak Carla en Zippo die feesganger by die fees – meer inligting oor hulle later.
Sondag 28 Julie sluit die fees af met ‘n hoogtepunt – ‘n optrede deur die alombekende groep, Romanz.
Die feesdae sal gevul word met ‘n groot verskeidenheid heerlike kosse en wyne om aan te smul, interessante proe-sessies met wyn, port en bier, asook ‘n 4de Laan vol interessante klein winkeltjies waar jy goeie kwaliteit ware kan besigtig en koop.
Vir die kinders bied die fees weer ‘n spesifieke area met aktiwiteite gepas vir jonger kinders en ‘n aparte area vir tieners en jong volwassenes. In die Kids Zone sal daar flieks vertoon word asook hul eie Kids Café waar hul kan smul aan lekkernye.
“Hierdie jaar bied ons ook ‘n verfbalkompetisie aan – spanne sal vooraf kan inskryf. Die inskrywingsvorm sal binnekort beskikbaar wees op die fees se webblad. Teken solank die feesdatums aan op jou kalender – en onthou die fees is vir die hele familie, oud en jonk,” het die organiseerders beaam.
Hou elke week se George Herald dop vir inligting oor die gebeure by die fees.
‘Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus’
Source: George Herald