Ons eie Switserland
’n Tog na die Tiffindell-ski-oord in die Oos-Kaap herroep jou kindwees. Vir my in elk geval. En dit is nie net omdat dit die provinsie is waar ek gebore is en grootgeword het nie.
Trouens, ek het kompleet soos ’n karakter in die jeugboek en rolprent Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gevoel.
Veral omdat ek omtrent alles wat ek hier, by die enigste ski-oord in die land, in ’n boekie wou neerskryf soos Hanna en soos sy weg van die huis na ’n “huisie in die berge” gereis het.
Die rolprent se klankbaan het by tye nogal in my kop gedraal.
In Hanna se storie was daar wel nie sneeu nie, maar soos hulle kan die hele gesin hier kom uitspan. Ook ’n ander kinderstorie, waar daar wél sneeu betrokke was, het by my opgekom.
Daar is baie om in so ’n boekie neer te skryf. Soveel dinge wat ’n mens waarneem en wil onthou.
Om te begin: Die rit van die dorp Rhodes af na die oord in ’n pendelbakkie. Dankie tog dit was met die eerste rit op dié by tye smal pad al donker. Anders sou ek stellig baie onrustiger agter in daai bakkie gewees het terwyl ons teen die steiltes uitbeur.
Tiffindell is egter meer as ’n “huisie in die berge”. Minstens 150 mense kan hier oornag.
Honger ly jy nie, selfs koud (binnenshuis), dié kry jy nie.
Hoewel jy hoofsaaklik hier sal stilhou om te ski, is dit nie al waarop jy getrakteer word nie.
En sodra die son gaan skuil het agter die berge waarop sommige gaste uit hul kamers kyk, is die vermaak vir die dag ver van verby.
Met ’n baadjie en serp en mus, stap ek die ontvangslokaal binne.
Behalwe vir die vrywaringsvorms wat jy invul (jy wil mos die steiltes aandurf) word jy ’n sjerrie teen die koue aangebied. Jy sluk egter ook aan die senuwees, as dié aktiwiteit vir jou nuut is.
Jy gaan eet en word daarna uitgenooi na die kroeg vir vermaak deur die personeel van die oord. Die betrokke aand is daar vier items op die program en dit het die gaste gaande.
Weer moes ek dink aan Hanna Hoekom waar hulle ook hul eie vermaak in die vorm van sing en dans en toneelspeel, noem dit maar ’n verskeidenheidskonsert, verskaf het en dit ’n heel genotvolle aand vir hulle was. So was dit hierdie aand by Tiffindell.
Ski-lesse is belangrik
Die volgende oggend lê die veld voor jou uitgestrek, ’n dag vol moontlikhede. Om ’n bietjie te gaan rondstap lewer baie om waar te neem. Jy weet egter ook op hierdie dag gaan jy een van die opdraandes waarna jy nou tydens jou staptog kyk, met ski’s moet opklim en dan af ski. Skielik het ’n mens nuwe respek vir Heidi se Peter wat altyd met sy tamatiekissie (soos hy sy slee genoem het) teen die steil Alpe af die sneeu getrotseer het. Hoe op aarde kon hy so kalm bly?
Goed, ek sukkel eers om ski-stewels van die regte grootte te kry. En dit voel omtrent of jy op stelte loop. Fyn balans; selfs nou terwyl jy nog nie op die sneeu is nie. Dan vir die les – jy moet immers weet wat jy doen.
Die instrukteur, Philip Mitana, se geduld verdien ook vermelding. Want glo my, om te leer ski, is nie vir almal maklik nie. En skielik haal ek harder asem, maar dis my eie skuld, toegegee.
Let egter mooi op in die klas. Die raad en tegnieke wat hulle jou leer, maak die wêreld se verskil. Een enkele beweging waarop hulle jou wys, maak jou pad teen daardie opdraand eenvoudig makliker. Nog meer belangrik, fokus op wat jy moet doen om te kan stop . . .
Een man, wat nie kon stop nie, het teen my vas geski, en gevolglik moes twee vreemdelinge hier saam staan om staande te bly. Mitana is egter die ene aanmoediging: “Jy kry die tegniek reg, maar vergeet nou daarvan dat jy dalk mag val. Jy sal nie val nie.” Makliker om dit aan te hoor as om regtig dié moontlikheid uit te skakel. Later die middag vertel die mede-eienaar, Lew Campbell, vir my dit raak makliker op dag drie, want aanvanklik kry stres die oorhand.
By Tiffindell ervaar jy iets uniek – nie net omdat dit die enigste ski-oord in Suid-Afrika is nie. Die avonture wat jy hier beleef, is dalk net so ongelooflik soos dié van Hanna Hoekom, of selfs nog meer.Opperman het Tiffindell op uitnodiging besoek.
Bron: Netwerk24