Veteraanmotors lê lag-lag meer as 1 000 km af
’n Verkeersman van Wellington het baie verleë om verskoning gevra nadat hy met flitsende ligte en loeiende sirenes ’n veteraanmotor van die pad getrek het.
“Hy het gedink die bestuurder praat op sy selfoon, terwyl dit die passasier was wat aan die regterkant gesit het,” sê Pierre Conradie oor een van die lekkerlag-ervarings op die Suid-Kaap Oumotorklub (SCOCC) se sesde Erfenistoer.
Hy en Maritz Stander het in Conradie se wit 1963-Studebaker Avanti met ’n linkerstuur aan die toer deelgeneem.
Altesaam 27 veteraan- en klassieke motors het aan die toer van 1 150 km van George af deur die Wes-Kaapse platteland deelgeneem.
Pierre Olivier, voorsitter van die klub, sê alles het seepglad verloop. “Dit was ’n uitstekende toer met die minste logistieke probleme van al die toere wat die klub al onderneem het.”
Die publiek se reaksie was ook oorweldigend.
Die voertuie, waarvan die oudste Model T Fords van 1914 dateer, het besonder goed gehou, sê Phillip Rosser, een van die organiseerders.
Sewe deelnemers het vir die eerste keer aan die toer deelgeneem. Johan en Ansie Claassen van Morgenzon in hul Model A Ford was van die nuwelinge.
Dié voertuig het vroeër jare aan Philip Kuschke en sy broer, Emil, se pa behoort. Die broers het met hul Model T Fords van 1914 en 1915 aan die Erfenistoer deelgeneem.
Rosser, wat in sy 1926-Model T Ford deelgeneem het, sê die weer het merendeels saamgespeel, wat nogal belangrik is wanneer ’n mens in ’n voertuig sonder syruite teen ’n gemiddelde snelheid van 45 km/h 1 150 km moet aflê.
Bron: Netwerk24