Focus RS jaag bloeddruk op
Kort ná die ikoniese Ford Mustang se koms, is daar nou nog ’n ryding met die blou ovaal wat jou hart aansienlik vinniger sal laat klop. Inteendeel . . . jy sal dalk ’n bloeddrukpilletjie vir dié een moet sluk . . .
Die nuwe Ford Focus RS is hier en is nie net nog ’n tawwe tienie-Focus soos die ST nie.
Die RS is ’n omvattende pakket. Die derde geslag van dié witwarm Ford span weer vierwielaandrywing in soos die eerste generasie van 2002 (wat nie plaaslik te kry was nie). In 2009 was die tweede geslag wel hier te kry en al het dit net voorwielaandrywing gehad, was dit steeds ’n bielie.
Die nuwe RS is ’n kookwater kalant wat sy woema na al vier wiele kan stuur. Om sommer met die deur in die huis te val – ’n towerknoppie waarop Drift staan, sal vir ongekende pret sorg.
Dié knoppie is een van die groot bemarkingstruuks van die nuwe RS. Daarmee word ’n program in die slim nuwe dryfstelsel geaktiveer wat 70% van die krag na die agterwiele stuur.
Boonop kan dit sorg dat 100% van dié krag na een van die wiele gekanaliseer word. Al die elektroniese ingrypmiddels wat die pret kan bederf, word afgeskakel en jy het basies ’n agterwielaangedrewe blitsbuks.
Met die stuur en petrolpedaal kan jy die Focus se boude laat uithang soos ’n wafferse ou 3-reeks-Beemer en soos ’n krap skuins in die rondte laat waai.
Die Drift-knoppie is nie die enigste pret-opsie nie. Jy kan buiten die normale verstelling ook Sport of Track kies en dan die hoogtepunt, Drift.
Die RS se blikbrein sal met die ritkeuses verskillende stadiums van fermer demping, elektroniese ingryping deur die stabiliteitsprogram, stywer stuur en kragverspreiding tussen die vier wiele reguleer.
In normale ryery geskied kraglewering deur die voorwiele en wissel dan na gelang van die ritkeuse met Drift wat die radikaalste van almal is.
Daar is wegtrekbeheer wat die krag in ideale sterkte na al vier wiele sal versprei vir die minimum tydmors met lang wieltol.
Selfs die enjinklank wissel tussen die verskillende ritkeuses. Die enjinklank word in die kajuit met behulp van die luidsprekers versterk.
Van die enjin gepraat. Onder die RS se neus is ’n 2.3-liter-viersilinder-turbopetrolenjin. Dieselfde Ecoboost-kragbron doen ook diens in die intreevlak-Mustang. Vir die RS het Ford se motorsportspan hul towerstaffie geswaai en pomp dit ’n stewige 257 kW uit teenoor die 233 kW in die Mustang. Dit is ook aansienlik meer as die 184 kW wat die Focus ST se 2-literenjin uitskop.
Hoe maak die RS as jy die lepel looi? Hy is so onstuitbaar soos ’n Ruan Combrinck onderweg doellyn toe. Soos ’n wafferse naelloper neem die RS net 4.7 sekondes om by 100 km/h uit te kom. Jy wikkel blitsig deur die kort gange van die ratte (’n aangepaste sesganghandratkas van die ST) en as niemand jou keer nie, sal die RS se asem eers teen ’n ongeoorloofde spoed van 266 km/h opraak.
Op die glybaan sou jy maklik sy agterstewe kan laat uithang, en, sou jy te swaar op die pedaal wees, met ’n bietjie teenstuur weer beheer verkry as die RS ’n rondomtalie sou wil doen.
Die rit is ferm, maar nie naastenby so stamperig soos in een van sy mededingers uit Japan nie.
Danksy die vierdeurbakwerk, behou die RS sy praktiese waarde as ’n ruim luikrug.
Die nuwe RS is net in blou, swart en wit beskikbaar wat dit minder opmerklik maak as sy voorganger se kenmerkende Hulk-groen.
Elke drukvin, luginlaat, hoekie en ronding in die ontwerp speel ’n rol in die RS se doeltreffende windweerstand en help met genoeg afwaartse druk om hom geplant te hou en te sorg vir die enjin en remme se verkoeling.
Binne is al die luukses daar wat jy ook in die ander topmodelle van die Focus-reeks kry en jy het ’n keuse om die sportsitplekke met opsionele supersportsitplekke te vervang.
Die jongste pretpakket uit die Ford-stal, is egter nie verniet nie . . . Teen R699 900 bevind die Focus RS hom by die hek van die kraal van ander uitspattige verrigters met ’n premium Duitse stamboom, soos die Mercedes AMG 45 4Matic, Audi RS3 Quattro en BMW M2. Dit is ’n hele entjie weg van mindere minimissiele soos die Golf R en Honda Civic Type R.
Net 300 van die RS-vuurvreters is vir Suid-Afrika bestem. As jy een kan bekostig, koop hom en as een teen jou wil kragte meet, vlug vinnig weg.
Source: Netwerk24